WES-KAAP. – ‘n Plaaslike seun (16) is sedert Vrydag vermis, nadat hy deur sterk seestrome by Bloubergstrand, meegesleur is.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Rowan Marais, stasiebevelvoerder van NSRI-Melkbosstrand, het gesê ‘n diensspan is kort ná 16:00 geaktiveer nadat berig van ‘n aktiewe verdrinking gekry is.
Ooggetuies het twee tienerseuns in die branders gesien wat gelyk het asof hulle in nood verkeer. Terwyl een van die twee dit reggekry het om die kus te bereik en nie beseer is nie, het die ander een in die see verdwyn. Volgens Marais is die Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk geaktiveer.
Ten spyte van ’n uitgebreide soektog ter see, vanuit die lug en langs die kus, is daar steeds geen teken van die vermiste tiener nie. Die polisie het ’n ondersoek geopen en polisieduikers sal die soektog voortsit.





