GAUTENG. – Malcolm Booysen (14) het Saterdagmiddag, kort voor 14:00, op die hoek van Northdene- en Medeleystraat in Brakpan gesterf toe ‘n minderjarige seun (12) hom met ‘n motor raak gery het.
Kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits bevestig ‘n saak van strafbare manslag is geopen. Die seun is in hegtenis geneem en is later in die sorg van sy voog vrygelaat.
Laerskool Brakpan-Oos het Malcolm, wat op 1 Junie verjaar het, as ‘n voormalige leerling geïdentifiseer. “Dit is met diep hartseer dat ons verneem het van die tragiese afsterwe van die Booysen-gesin se seun Malcolm. Hy was in 2024 by ons in Gr. 6 en sy boeties is tans nog by ons. Ons bid vir vrede, krag en troos vir die familie, vriende en almal wat geraak is deur hierdie verlies.”
Ekurhuleni Metropolisie (EMPD) sê in ‘n sosiale mediaplasing op Facebook beamptes was op die toneel. Die lewelose liggaam van ‘n tiener is op die toneel aangetref, waar hy dood verklaar is. Die 12-jarige het ‘n Mazda-voertuig bestuur en het na bewering ‘n stopteken verontagsaam voordat hy die 14-jarige met die voertuig getref het. Die minderjarige is in die teenwoordigheid van sy voog aan Brakpan-polisie oorhandig. Hy sal na verwagting binnekort in die Brakpan-landdroshof verskyn.
Volgens Helga Muller, ‘n lid van die gemeenskap, het die dood van die jong seun, wat getref is toe hy met sy scooter gery het, op verskeie Facebook-bladsye aangekondig. ‘n Gedenk-samekoms is Sondag gehou op die plek waar Malcolm by Norhdenestraat 39 gesterf het.


Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]






One Response
Hoekom het die seun toegang gehad tot die voertuig om dit te kan bestuur?