OOS-KAAP. – ‘n Boer en sy seun is gister op hulle plaas in Bluewater in die Amatole-distrik aangeval en aangerand. Die polisie en gemeenskap het spoedig reageer en twee beweerde huisrowers is vasgetrek.
Kapt. Hazel Mqala sê tydens die plaasaanval is ‘n roomkleurige Land Cruiser, ‘n wit Toyota Hilux-bakkie en ‘n wit VW Polo glo deur vyf verdagtes gesteel. ‘n Polisielid van ‘n honde-eenheid wat van diens af was, het sy kollegas laat weet die gesteelde voertuie is in die rigting van Oos-Londen op pad.
Na bewering is die voertuie omstreeks 15:00 deur gemeenskapslede tussen Mooiplaas en Brakfontein opgemerk. ‘n Jaagtog met die verdagtes, die gemeenskap en die polisielede van die honde-eenheid het gevolg.
Mqala sê die wit VW Polo het op die Beacon Bay Retail Park se afrit met ‘n Quantum-bussie gebots en gerol. Drie insittendes van die Quantum-bussie het beserings opgedoen en is deur paramedici na ‘n hospitaal geneem.
Die Land Cruiser se bestuurder het op die N2 in die rigting van Oos-Londen, nie ver van die eerste ongelukstoneel nie, beheer verloor en teen ‘n reling gebots. Twee verdagtes, onderskeidelik 25 en 29 jaar oud, is deur Green Scorpion in hegtenis geneem. Twee vuurwapens wat glo in die verdagtes se besit was, is ook teruggevind.
Beide die verdagtes sal binnekort op aanklagte van huisroof, aanranding en diefstal van motorvoertuie in die Oos-Londen-landdroshof verskyn.
Drie verdagtes is nog op vrye voet.





