Brekende Nuus
Afrikaans

Twee kinders sterf na voorbereide ete

Twee kinders het Saterdagoggend gesterf nadat hulle Vrydag 'n voorbereide ete genuttig het.

Twee kinders sterf na voorbereide ete
Foto: Ter illustrasie Canva

BRITS. NOORDWES. – Twee kinders van drie en tien jaar oud, het Saterdag gesterf, die een in Regorogile op Sonop buite Brits en ‘n ander in ‘n hospitaal, nadat hulle die nag van naarheid wakker geword het.

Brig. Sabata Mokgwabone sê ‘n vrou (32) het glo Vrydagaand ‘n ete, bestaande uit pap, hoendervoete en koring voorberei. ‘n Gesin en die bure se drie kinders het die maaltyd geniet en daarna gaan slaap.

Die kinders tussen die ouderdom van twee en 17 het in die oggendure wakker geword en was naar. ‘n Ambulans is ontbied. Een van die kinders is op die toneel dood verklaar. Van die ander wat saam geeët het, die vrou wat die maaltyd voorberei het, asook die bure se kinders, is na Brits-hospitaal geneem.

Een van die kinders is by die hospitaal dood, terwyl die ander na George Mukhari-hospitaal oorgeplaas is.

‘n Geregtelike doodsondersoek is deur die polisie geregistreer. ‘n Monster van die kos sal as deel van die ondersoek ontleed word.