MPUMALANGA. – Twee kinders, onderskeidelik 3 en 8 jaar oud, het Saterdag omstreeks 16:30 in die Treurrivier verdrink.
Brig. Donald Mdhluli, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits ‘n gesin het van Bosbokrand na die Dientjie-gebied gereis toe die voorval plaasgevind het. Die pa het glo water by die rivier, ongeveer 500 m van die hoofpad af, gaan skep, terwyl die ma en drie kinders saamgestap het.
Die kinders het onder die water verdwyn en die ma het die pa vir hulp geroep. Hy kon slegs hulle 10-jarige kind red. Die polisie en ander rolspelers, insluitend nooddienspersoneel, is onmiddellik na die toneel ontbied. By aankoms is die twee kinders dood verklaar.
Genl.maj. Zeph Nkwhwanazi, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het ‘n beroep op die publiek, en veral op ouers, gedoen, om soortgelyke voorvalle te voorkom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





