KWAZULU-NATAL. – ‘n Motorfietsbestuurder en ‘n voertuigbestuurder het vanoggend net na middernag buite Congella in ‘n botsing gesterf.
Garrith Jamieson, woordvoerder van ALS Paramedics sê die ongeluk het op die M4-Suidelike Snelweg buite Durban plaasgevind.
Met aankoms op die toneel is gevind die motorfiets het in die vinnige baan aan die agterkant van die voertuig vasgery en die voertuig byna in twee gedeel. Die motorfietsbestuurder in sy 40’s en die voertuigbestuurder in sy laat 30’s is op die toneel dood verklaar.
‘n Tiener, wat ‘n passasier in die voertuig was, is op die toneel gestabiliseer waarna sy in ‘n ernstige toestand vir verdere mediese behandeling deur gevorderde lewensondersteunende paramedici na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer is.
Die omstandighede van die ongeluk word deur die polisie en metropolisie, wat op die toneel teenwoordig was, ondersoek.





