GAUTENG. – Die bestuurder van ‘n voertuig is in sy been en sy passasier in sy maag geskiet toe hulle Woensdagaand omstreeks 19:20 slagoffers van ‘n spiking-insident was. Die voorval het op die R80 (Mabopane-hoofweg) in Mountain View, in Pretoria, gebeur.
AO Johan van Dyk sê vier slagoffers het na bewering met hulle wit BMW op die R80 gery toe hulle deur spikes gery en ‘n pap band gekry het. Die slagoffers het gestop om die band te ruil. Drie onbekende verdagtes het opgedaag en gesê hulle het ‘n domkrag om met die ruil van die band te help. Hulle het glo ‘n vuurwapen te voorskyn gebring en begin skiet.
Die bestuurder is in sy been en die passasier in sy maag geskiet. Van Dyk sê die verdagtes het met twee selfone, ‘n pet, ‘n onbekende bedrag geld en sneakers weggekom.
Die slagoffers kon daarin slaag om tot by die Engen-vulstasie in Es’kia Mphahlele te ry waar die polisie en nooddienste gekontak is. Die slagoffer wat in die maag geskiet is, is na Steve Biko Akademiese Hospitaal geneem.
Hercules-polisiestasie ondersoek sake van gewapende roof en poging tot moord.
Woensdagaand is nog ‘n voorval op die R80 onder die Hendrikstraat-brug waar klippe gepak is, gerapporteer. ‘n Motoris wat ‘n slagoffer was en sy band geruil het, is van sy selfoon, skoene en beursie beroof. Dit wil blyk asof dit dieselfde verdagtes kan wees.
Op 31 Maart is ‘n motoris wat op die N4 oos van Pretoria stilgehou het, noodlottig beseer.
Motoriste word gewaarsku om veral op die Mabopane-hoofweg en in Theo Martins Poort waaksaam te wees. Ry eerder stadiger tot by veilige hulp as om stil te hou en uit die voertuig te klim.
Bronne: SAPD en Rekord





