MPUMALANGA. – Twee mans, onderskeidelik 42 en 47 jaar oud, is Dinsdag op die N4 naby Middelburg in hegtenis geneem nadat die polisie na glo sowat 204 kg dagga in hul bakkie ontdek het. Die dagga het ‘n geskatte straatwaarde van R1,2 miljoen.
Lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, sê die inhegtenisnemings is deur lede van die Ermelo K9-eenheid gemaak nadat hulle inligting ontvang het oor ‘n bakkie wat vermoedelik dagga op die N4 vervoer. Die voertuig is afgetrek en deursoek is. Dagga wat met kleefband toegedraai is, is tydens die deursoeking ontdek. Die bakkie is ook vir verdere ondersoek gekonfiskeer.
Die twee verdagtes sal na verwagting vandag op ‘n aanklag van die besit van dagga in die Middelburg-landdroshof verskyn.





