KWAZULU-NATAL. – Twee verdagtes, vermoedelik huurmoordenaars, is Woensdagaand deur die polisie in Mhlabathini in Zululand doodgeskiet.
Kol. Robert Netshiunda sê die polisie het inligting opgevolg van twee verdagtes wat in ‘n rooi VW Polo ry en onderweg is om ‘n taxi-eienaar te vermoor. Die voertuig is op die R700 opgemerk, waarna die polisie probeer het om dit van die pad af te trek.
“Die bestuurder het in die middel van die pad stilgehou, waarna twee insittendes binne sekondes uit die voertuig gespring en op die polisie losgebrand het. Die polisie het teruggeskiet en twee verdagtes noodlottig gewond.”
Netshiunda sê drie vuurwapens is in die verdagtes se besit gevind, waarvan die voorlopige ondersoek aandui een is in Januarie in Macekane Reserve as gesteel aangemeld.
Die polisielede is nie tydens die skietery beseer nie.
“Die vuurwapens sal aan ballistiese toetse onderwerp word om vas te stel of dit met enige misdaadtoneel in en om die provinsie verbind word.”







