OOS-KAAP. – Die polisie het sy sigbaarheid in Alice verhoog ná die aanhoudende betogings en brand van geboue by die Universiteit van Fort Hare wat Maandagoggend omstreeks 04:00 begin het. Veiligheidswagte wat gyselaar gehou is, is bevry.
Luidens ‘n verklaring van lt.kol. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder, is een student Dinsdag tydens die protes beseer toe hy van ‘n brug afgespring het. Hy is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.
Agt verdagtes is sedert Dinsdag op aanklagte van openbare geweld en sakediefstal in hegtenis geneem. Betogende studente het Woensdag omstreeks 16:30 verskeie universiteitsgeboue aan die brand gesteek, insluitend die administrasiesentrum, studentesentrum, ouditorium en MIV-sentrum. Die polisie het vinnig opgetree en rubberkoeëls gebruik om die oproerige skare uiteen te jaag. Die situasie bly gespanne, maar die polisie hou die kampus noukeurig dop om verdere voorvalle te voorkom. Buiten die agt inhegtenisnemings is nog niemand vir brandstigting en beskadiging van eiendom aangekeer nie. Tydens die onluste is vier veiligheidswagte gyselaar gehou, maar is later ongedeerd deur die polisie bevry.
Mawisa sê die polisie sal orde handhaaf en stabiliteit herstel met waardigheid en toewyding om die veiligheid van almal te verseker.
Alle sake wat geopen is, sal deeglik ondersoek word. Enigiemand met inligting oor die brandstigting of skade aan universiteitseiendom word versoek om die Alice-polisiekantoor te kontak. Die agt verdagtes, tussen 22 en 33 jaar oud, het reeds in die Alice-landdroshof voorgekom en sal weer op 26 November in die hof verskyn.





