WES-KAAP. – Pierre en Belinda de Kock, prominente figure in hul gemeenskap op Piketberg, is Sondag 4 Junie 2023 dood in hul huis op hul plaas Aurora gevind. Uitspraak in die daaropvolgende moordsaak word binnekort gemaak.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die uitspraak in die saak van die staat teen Phindile Pone, wat verband hou met die moord op die De Kock-egpaar, sal in die hooggeregshof gemaak word. Volgens inligting uit die hofverrigtinge is die egpaar, wat die plaas besit het, deur drie Lesotho-plaaswerkers aangeval en vermoor. Slegs een beskuldigde, Phindile Pone, is in hegtenis geneem en vervolg. Tydens die aanval is die oorledenes gemartel en gedwing om R230 000 na die bankrekenings van die beskuldigde en ‘n ander vermeende medepligtige oor te dra. Plaaswerkers het in die verhoor getuig oor die gebeure en die ingrypende uitwerking wat die voorval op hulle gehad het.
Die Laaiplek-polisie het op die betrokke datum ‘n dubbelmoordsaak geregistreer nadat twee liggame (manlik en vroulik) ongeveer 18:00 gevind is. Beide die oorledenes, in hul 50’s, is die Vrydag voordat hulle liggame ontdek is, laas gesien. ‘n Vroulike werker het die Sondag op hul liggame afgekom en die polisie verwittig. Na bewering het een van die honde in en uit die huis gehardloop, wat haar aandag getrek het. Sy het ondersoek ingestel en het die liggaam van die vrou in die slaapkamer aangetref. Sy was steeds in dieselfde klere wat sy die Vrydag aangehad het, geklee. Die liggaam van die man is in die motorhuis, met ‘n steekwond in sy nek, gevind.
Lees meer hier onder:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

