WES-KAAP. – Dr. Robyn Adams van die departement verloskunde en ginekologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) is tydens Servikale Kankerbewustheidsmaand as Suid-Afrika se ambassadeur by die Internasionale Papilloomvirusvereniging (IPVS) aangewys. Volgens Adams is servikale kanker steeds die grootste oorsaak van kankersterftes onder Suid-Afrikaanse vroue, veral dié wat met MIV leef.
Luidens ‘n verklaring is Adams een van slegs 27 ambassadeurs wêreldwyd en sal Suid-Afrika vir die volgende twee jaar internasionaal verteenwoordig. Die aanstelling bied ’n platform om die kollig op servikale kanker in Suid-Afrika te laat val en voorkomingspogings te versterk. Die menslike papilloomvirus is ʼn algemene seksueel oordraagbare infeksie met meer as 200 tipes, waarvan sommige genitale vratte veroorsaak en ander wat sekere kankers, soos servikale, vulva-anale en keelkanker, kan veroorsaak.
Dr Adams speel ’n integrale rol in die US se ginekologiese onkologie-navorsingsgroep en fokus op innoverende siftingstrategieë, insluitend selfmonsterneming en DNS-metileringstoetsing, wat vroeë opsporing van servikale kanker verbeter. Gedurende haar termyn sal sy nasionale bewusmaking en samewerking met skole, gemeenskappe en internasionale navorsers bevorder.
Druk hier om meer te lees.





