UV-studente ná ‘petrolbom’ deur hof gewaarsku

Lees ook :

Foto's: Verskaf

VRYSTAAT. – Ses manlike studente is in hegtenis geneem nadat hulle glo Saterdag in die vroeë oggendure ’n selfgemaakte petrolbom na die sekuriteitswagkamer in Bedenhouststraat by die Universiteit van die Vrystaat gegooi het. Die studente is Maandag in die Bloemfontein-landdroshof met ‘n waarskuwing vrygelaat. Alle universiteitsbedrywighede is gestaak.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die ses studente is omstreeks 01:15 deur GAP Management-veiligheidsbeamptes aangekeer. Die polisie en forensiese deskundiges is ontbied om die toneel te ondersoek.

In ’n verwante voorval het nege studente wat vir openbare geweld by die universiteit in hegtenis geneem is, Vrydag in dieselfde hof borgtog gekry met die voorwaarde dat hulle nie die kampus mag betree totdat die saak van opsetlike saakbeskadiging en poging tot brandstigting afgehandel is nie. Daar moet ook voorsiening gemaak word vir alternatiewe verblyf vir dié wat normaalweg op die kampus woon.

Covane sê: “Die universiteit het die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Polisiediens by die drie kampusse – Bloemfontein, Suidkampus en Qwaqwa – versoek in reaksie op beweerde hernude dreigemente van betogings wat verband hou met studenteskuld, uitdagings met NSFAS-befondsing en die beëindiging van voorlopige registrasie vanaf 2026. Die versoek het gevolg nadat die universiteit verhoogde mobilisering op sosialemediaplatforms opgemerk het, met plasings wat daarop dui dat sekere groepe beplan om normale universiteitsbedrywighede te ontwrig. Die polisie hou steeds aan met patrollies in en rondom die kampusse.”

Beide sake sal op Dinsdag 4 November 2025 weer in die Bloemfontein-landdroshof hervat word.

Nuusflits het intussen van inwoners verneem dat alternatiewe roetes gebruik moet word, aangesien die studente sekere paaie met voorwerpe blokkeer en die protesoptrede weer in die vroeë oggendure opgevlam het. Die situasie word deur die polisie en veiligheidsmaatskappye gemonitor. Nuusflits het bevestiging van die polisie gevra.

Die universiteit het Dinsdag alle akademiese aktiwiteite tot verdere kennisgewing opgeskort, ná die studenteprotesoptrede wat reeds die afgelope week op al drie die universiteit se kampusse plaasgevind het. Volgens ‘n sosialemediaplasing deur die universitet hou die betogings met die instel van ‘n meer regverdige, gelyke en volhoubare finansiële ondersteuningstelsel vir alle studente vanaf 2026, verband.

Druk hier om meer te lees.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief