KWAZULU-NATAL. – ‘n Verdagte is Woensdagmiddag tydens ‘n skietgeveg met die polisie in KwaDabeka noodlottig gewond. Twee ander verdagtes is gewond en onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem. Die verdagtes word met ‘n skietery op polisiebeamptes verbind.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes word verbind met ‘n voorval toe twee polisiebeamptes Dinsdag in Danisastraat in die Bester-omgewing onder skoot gekom het. Altesaam tien gewapende mans het op die polisiebeamptes losgebrand. Albei beamptes het ligte beserings opgedoen en is vir behandeling hospitaal toe geneem. ’n Ondersoek het tot die opsporing van vier verdagtes by die KK-koshuis in KwaDabeka gelei. Toe die polisie hulle nader, het die verdagtes op hulle geskiet en ’n skietgeveg het ontstaan. Een verdagte is op die toneel dood en twee is later met skietwonde aangetref. ‘n Vierde verdagte het daarin geslaag om te ontsnap. Die verdagtes word ook met ’n moordsaak in Inanda verbind.
Een vuurwapen en 93 ammunisierondtes is by die verdagtes gevind, asook drie bykomende vuurwapens tydens verdere ondersoeke.
Die gearresteerdes sal in die hof verskyn sodra hulle medies geskik is. Die soektog na die oorblywende verdagtes duur voort.





