MPUMALANGA. – ‘n Verdagte is glo Donderdagoggend deur die Witrivier-blitspatrollie met agt AK-47-aanvalsgewere, ‘n R1-geweer, ‘n R5-geweer, ‘n pistool, ‘n rewolwer, twee granate en lewendige ammunisie in sy besit, in hegtenis geneem.
Kol. Donald Mdhluli en Moeti Mmusi, woordvoerders van die polisie en gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê in ‘n gesamentlike verklaring ‘n wit Toyota-enkelkajuitbakkie het omstreeks 04:30 opdragte van die blitspatrollie geïgnoreer om stil te hou en teen ‘n hoë snelheid van hulle probeer wegjaag. Hy is tot stilstand gedwing en tydens deursoeking is op die arsenaal van vuurwapens en ammunisie afgekom. Die vuurwapens is gekonsfiskeer en die verdagte op aanklag van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie in hegtenis geneem.
“Ballistiese toetse sal vasstel of die vuurwapens voorheen elders in die pleging van misdaad gebruik is, dus kan die polisie nie die moontlikheid uitsluit dat nog klagte teen die verdagte bygevoeg sal word terwyl die ondersoek voortduur nie.”
Die blitspatrollielede is geprys vir die suksesvolle konfiskering voordat die vuurwapens en ammunisie in verkeerde hande kon beland.
