LIMPOPO. – ‘n Man (24), van diefstal verdink, het Dinsdag gesterf en nog ‘n verdagte (25), glo sy makker, is onder polisiebewaking in ‘n hospitaal nadat hulle van diefstal by ‘n paneelklopper by Leeuwfontein naby Marble Hall beskuldig en glo aangerand is.
Kol. Malesela Ledwaba sê die polisie het ‘n klagte van aanranding ontvang en het hulle na die toneel gehaas. By ‘n paneelklopperbesigheid het die eienaar (46) die polisie ontmoet en ingenooi. Twee mans, wat erg aangerand is, is op die perseel gevind, waarna familie van die oorledene hulle vir mediese behandeling na Leeuwfontein-kliniek geneem het. Die 24-jarige het egter aan sy beserings beswyk.
Die eienaar van die besigheid het volgens Ledwaba aan polisielede verduidelik die twee jonger mans het na bewering ‘n onderdeel (block) gesteel. ‘n Saak van diefstal vanuit ‘n motorvoertuig is geregistreer.
Die polisie het die besigheidseienaar en nog ‘n verdagte (48) vir moord in hegtenis geneem. Die ander, jonger verdagte, wat glo aangerand en in die hospitaal is, is vir diefstal vanuit ‘n motorvoertuig in hegtenis geneem.
Al drie die verdagtes sal Vrydag in die Motetema-landdroshof verskyn.
Die polisie-ondersoek duur voort.





