MPUMALANGA. – ‘n Verdagte (39) is op ‘n aanklag van moord in hegtenis geneem nadat dr. Nondumiso Sibanyoni (34) verlede jaar in November buite ‘n gimnasium in Mbombela (voorheen Nelspruit) doodgeskiet is. Die provinsiale moord-en-roofeenheid het Dinsdag ‘n deurbraak in die saak gemaak. Die verdagte sal na verwagting vandag in die Nelspruit-landdroshof verskyn.
Luidens ‘n verklaring aan Nuusflits deur brig. Donald Mdhluli, provinsiale polisiewoordvoerder, het die dokter by ‘n staatshospitaal gewerk toe hy omstreeks 05:30 op 20 November doodgeskiet is. Die polisie en paramedici het op ’n oproep gereageer en die slagoffer buite haar motor aangetref. Sy is op die toneel dood verklaar.
Die motief vir die moord is nog onbekend. Die polisie het aangedui dat verdere inhegtenisnemings soos wat die ondersoek voortduur, nie uitgesluit kan word nie.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





