NOORDWES. – Altesaam 12 verdagtes is in drie verskillende operasies met beweerde gouddraende materiaal in hulle besit in hegtenis geneem.
Kol. Adéle Myburgh sê tydens die eerste operasie op Woensdag 13 Maart het polisielede op patrollie ‘n verdagte Toyota Quantum op die N12 by ‘n vulstasie in Meiringspark, Klerksdorp gestop en deursoek. Die polisie het 61 sakke met goudraende materiaal, asook nege ongedokumenteerde persone, gevind. Agt verdagtes het die volgende dag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn. Hulle saak van die beweerde besit van gouddraende materiaal en oortreding van die immigrasiewet is tot 16 Mei uitgestel. ‘n Verdagte (14) is ingevolge die kinderwet hanteer.
Tydens die tweede insident op 13 Maart het polisielede op patrollie naby die Shibamyn op die pad tussen Klerksdorp en Orkney gesien hoe Jon Mateu Mhlanga (33) grond in ‘n sak gooi. Hy het die polisielede gesien en weggehardloop. Hy is gevang en het vir die beweerde besit van gouddraende materiaal en oortreding van die immigrasiewet in die Klerksdorp-landdroshof verskyn. Mhlanga se saak is tot 17 Mei uitgestel terwyl hy in aanhouding bly.
Gedurende die derde insident op dieselfde dag het polisielede by Arnistonmyn se stortingsterrein in Klerksdorp vir Remaketse Ntoa (36) en Maatekane Tsobo (24), twee ongedukumenteerde verdagtes, met 35 kg sakke wat glo gouddraende materiaal bevat het, in hegtenis geneem. Beide het in die Klerksdorp-landdroshof verskyn en bly in aanhouding tot 25 Maart wanneer die saak weer voorkom.
Lt.genl. Sello Kwena het die polisielede vir hulle suksesvolle inhegtenisnemings geprys.





