OOS-KAAP. – Drie mense het op bewering van betrokkenheid by ‘n sindikaat wat glo vals oogtoetssertifikate aan aansoekers om bestuurderslisensies uitreik, in die Mthatha- gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn.
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê die ondersoek het laat verlede jaar begin nadat betroubare inligting ontvang is oor beweerde onwettige oogtoetse wat by ‘n perseel naby die King Sabata Dalindyebo-bestuurslisensietoetssentrum in Mthatha uitgevoer is. Die ondersoek het glo getoon dat mense sonder die nodige kwalifikasies en registrasie die toetse gedoen en sertifikate uitgereik het.
Volgens die Valke het geheime operasies bevestig dat oogtoetssertifikate teen betaling van R150 uitgereik is, sonder dat wettige of professionele oogondersoeke plaasgevind het. Die ondersoek het verder aan die lig gebring dat soortgelyke bedrywighede ook in Libode plaasgevind het. Deursoekings by die betrokke persele het gelei tot die beslaglegging op verskeie items wat as bewysstukke sal dien, asook die inhegtenisneming van die drie verdagtes.
Die beskuldigdes is elk op borgtog van R500 vrygelaat. Die saak is tot 20 Julie uitgestel, terwyl die ondersoek voortduur.





