NOORDWES EN GAUTENG. – Ses verdagtes is in Noordwes en nog vier in Gauteng in besit van inkgevlekte banknote gearresteer. In Noordwes het verdagtes hulle in die polisie en boere vasgeloop. In Gauteng is vier werknemers van ‘n gekontrakteerde maatskappy wat opgeblaasde OTM’e regmaak, vasgetrek.
Kol. Adéle Myburgh sê Mareetsane-polisie is Woensdagoggend na ‘n toneel waar ‘n deur langs ‘n OTM opgeblaas is. Met aankoms het verdagtes laat spaander, maar Oatile Nchang (23) is in ‘n wegkommotor gearresteer. Verdere ondersoek deur die provinsiale moord-en-roofeenheid het kort daarna tot Thabo Obed Kalabase (40) en Phemelo Motlhankane (24) se inhegtenisnemings gelei.
Intussen het boere van Delareyville, ‘n naburige dorp, drie verdagtes met sakke wat klere, vermomming en inkgevlekte note bevat het, aangekeer. Tshepang Edwin Mohapi (44), Rethabile Mohapinyana (27) en Letlala Qabano (37) is aan die Delareyville-polisie oorhandig, waarna hulle vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere aangekla is. Die drie het Vrydag in die Delareyville-landdroshof voorgekom, waarna hulle saam met die ander drie verdagtes van Mereetsane in die Ditsobotla-landdroshof in Itsoseng verskyn het. Hulle word deur aanklagte van opsetlike saakbeskadiging en die onwettige besit van springstof in die gesig gestaar. Al die verdagtes was weer Maandag in die hof, waarna die saak vir ‘n formele borgaansoek tot 26 Februarie uitgestel is.
Lt. kol. Mavela Masondo sê die polisie het inligting van ‘n bank ontvang oor verdagte persone wat glo inkgevlekte banknote in OTM-masjiene deponeer. Met die voorlopige ondersoek is uitgevind die verdagtes werk vir die gekontrakteerde maatskappy. Polisie-eenhede wat saamwerk, is na die maatskappy, waar een van die verdagtes aangetref is. Tydens deursoeking is gewasde note by die verdagte en inkgevlekte note by sy huis ontdek.
Verdere ondersoek het na Tembisa en Alexandra gelei, waar nog drie verdagtes, insluitend ‘n meesterbrein, gearresteer is. Meer inkgevlekte note ter waarde van R160 000 en chemikalieë wat gebruik word om die inkvlekke skoon te maak, is gekonfiskeer. Die verdagtes sou na verwagting Maandag in die Tembisa-landdroshof voorkom.





