GAUTENG. – Michael Pule Tau (55), Katiso Molefe (61), Tiego Floyd Mabusela (45) en Musa Kekana het Dinsdag hulle eerste verskyning in die Alexandra-landdroshof gemaak. Hulle is in hegtenis geneem in verband met die moord op Oupa John Sefoka, ook bekend as DJ Sumbody, op 20 November 2022 in Woodmead.
Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê volgens aanklagte is die beskuldigdes na bewering huurmoordenaars, van wie een glo die moord op Sefoka beveel het. Die skietery het tot die dood van Sefoka, Sibusiso Walter Mkoena en Sandile Shawn Myeza gelei. Twee slagoffers is op die toneel dood, terwyl die derde in ‘n hospitaal opgeneem is en later oorlede is.
Mabusela en Kekana was reeds vir ‘n afsonderlike saak rakende die poging tot moord op Tebogo Thobejane in aanhouding toe hulle aan die huidige klagtes gekoppel is. Die beskuldigdes staan tereg op drie aanklagte van moord, asook die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Die saak is tot 29 Julie 2025 uitgestel om die staat kans te gee om die beskuldigdes te profileer, nadat een van hulle om borgtog aansoek gedoen het.
Afsonderlik hiervan het die staat nog ’n beskuldigde in die saak van poging tot moord op Thobejane bygevoeg. Nthabiseng Nzama, nou beskuldigde nommer vyf, word van geldtransaksies wat tussen rekeninge gefasiliteer is, beskuldig. Daar was glo kennis dat die geld uit kriminele aktiwiteite ontstaan het. Nzama het haar eerste verskyning in die hof gemaak en is op borgtog van R10 000 vrygelaat. Haar saak is tot 26 Augustus uitgestel om saam met haar medebeskuldigdes te verskyn.
Die ondersoek duur voort.





