GAUTENG. – DJ, Oupa John Sefoka, algemeen bekend as DJ Sumbody, is in November 2022 in ‘n skietaanval dood. Die polisie se taakspan vir politieke moorde het Maandag vier verdagtes in noue samewerking met speurders vir georganiseerde misdaad aangekeer. Die vuurwapen wat gebruik was en die verdagtes word ook aan die moord op Armand Swart en poging tot moord op Tebogo Thobejane verbind.
Police Spokesperson Athlenda Mathe says the firearm that killed Dj Sumbody is the same firearm that killed Armand Swart. Four suspects appeared in court for the murder of Dj Sumbody. #eNCA pic.twitter.com/OT9lgpMtZz
— eNCA (@eNCA) July 22, 2025
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring genl. Fannie Masemola het die jongste deurbraak verwelkom. Die vier verdagte mans tussen die ouderdomme van 45 en 60 is nie net vir die gewilde DJ se moord in hegtenis geneem nie, maar ook vir die moord op sy twee lyfwagte Sibusiso Mokoena en Sandile Myeza. Drie van die verdagtes word glo as sluipmoordenaars geïdentifiseer en een as die persoon wat na bewering die moord op DJ Sumbody gereël het.
Dat op die vuurwapen wat vermoedelik tydens die misdaad gebruik is, beslag gelê is en dit intussen met ander opspraakwekkende moorde verbind is, maak die sukses soveel groter. Dieselfde vuurwapen is gebruik om DJ Sumbody se lyfwagte en Armand Swart in April 2024 dood te skiet. Dieselfde verdagtes is in albei sake in hegtenis geneem. Twee van dieselfde verdagtes word aan die poging tot moord op Thobejane gekoppel.
Die klagtes teen die verdagtes, wat Dinsdag in die Alexandra-landdroshof voorgekom het, sluit onder andere moord en sameswering om moord te pleeg in.
Die saak is tot 29 Julie uitgestel wanneer die verdagtes vir borgtog aansoek sal doen.
Lees meer oor die ander sake hier onder:





