GAUTENG. – Vier mans is vroeër vanoggend, kort ná 04:00, in hegtenis geneem in verband met die moord op Braam Kruger (40) op 2 April by ’n gastehuis in Brooklyn. Soos voorheen berig, was Kruger ‘n bekende in mediese kringe en voorheen verbonde aan Emer-G-Med-ambulansdienste en die uitvoerende hoof van EQiGate SA, ’n gesondheidstegnologiemaatskappy in Pretoria.
Kapt. Johan van Dyk sê aan Nuusflits intensiewe ondersoekwerk is gedoen, waartydens inligting en bewyse ingesamel en ontleed is, waarna die inhegtenisnemings gevolg het. Voorlopige inligting dui daarop dat die verdagtes hoofsaaklik uit KwaZulu-Natal afkomstig is en dat hulle kort ná die voorval terug na Durban gereis het.
’n Multidissiplinêre span is aanvanklik na KwaZulu-Natal ontplooi om die verdagtes op te spoor, maar nuwe intelligensie is ontvang wat aangedui het dat die groep na Gauteng terugkeer. Die span is toe herontplooi na die Protea Glen-omgewing, waar ’n perseel wat met die verdagtes verbind word, geïdentifiseer is.
Vier verdagtes is sonder voorval in die huis aangetref en in hegtenis geneem. Die polisie sê hulle word positief met die moordsaak verbind. Die ondersoek duur voort om nog ‘n verdagte wat glo betrokke is in die saak, op te spoor en in hegtenis te neem.
Genl.maj. Samuel Thine, Tshwane-distrikskommissaris, het die beamptes geloof vir hul professionele en volgehoue werk wat tot die deurbraak gelei het, asook vir die doeltreffende samewerking tussen eenhede oor provinsiale grense heen.
Kruger is enkele dae voor sy 41ste verjaardag vermoor. ‘n Troosdiens en teraardebestelling vir Kruger vind op 17 April plaas.






