KWAZULU-NATAL. – Twee verdagtes wat glo voertuie uitmekaar gehaal het, is Donderdag deur die polisie op ‘n perseel in Westcliff in Chatsworth in hegtenis geneem.
Volgens kapt. Cheryl Pillay het die polisie ‘n wenk ontvang van die motorvoertuie wat uitmekaar gehaal word. Met aankoms op die toneel is twee verdagtes, onderskeidelik 31 en 40 jaar oud, vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, vasgetrek.
In ‘n onverwante voorval is inligting van ‘n beweerde gesteelde voertuig by Kind Edward-hospitaal ontvang. Die voertuig is op die M1-hoofweg onderskep en ‘n 22-jarige verdagte is vir die beweerde diefstal van die Toyota Fortuner in hegtenis geneem.
Die verdagtes sal binnekort op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en diefstal van ‘n motorvoertuig in die Chatsworth-landdroshof verskyn.
Brig. Ruth de Villiers het lede vir die inhegtenisnemings geprys.





