MPUMALANGA. – Altesaam sewe verdagtes wat glo Maandag ‘n kind van ‘n skool op Kriel ontvoer het, se borg is Donderdag in die Kriel-landdroshof geweier. Die saak is tot Maandag uitgestel.
Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi sê na bewering het die verdagtes, vier vroue en drie mans, op die betrokke dag van die ontvoering ‘n hoërskool op Kriel besoek. ‘n Vroulike verdagte is by die skoolgrond in en het ‘n ander leerder gevra om die slagoffer te roep en te sê haar ma is siek.
“Die slagoffer het aangehardloop gekom, en hulle het vir haar gesê dat hulle gestuur is om haar te haal. Die slagoffer het in die voertuig geklim en hulle het weggejaag.”
Sekgotodi sê die verdagtes het glo vir die kind gesê haar ma skuld hulle, waarna oproepe gemaak is en ‘n losprys van R200 000 geëis is.
“Die klaagster, wat ‘n sakevrou is, het aan die verdagtes gesê dat sy nie die geëisde losprys het nie, maar slegs R9 000.00. Sy het drie bankrekeninge gekry om die geld deur cash send te deponeer. Nadat die geld gedeponeer is, het die verdagtes dit onttrek.”
Die voorval is aan die polisie gerapporteer, waarna verskeie eenhede, insluitend die Valke en die polisie se selfmoord-en-gyselaaronderhandelaar, vinnig reageer het.
“Voorlopige ondersoek het gelei na die verdagtes en die geïdentfiseerde verdagte voertuig in die omgewing waar die geld onttrek is.”
Die ondersoek is daarna op Vosloorus in Gauteng voortgesit waar vier verdagtes in hegtenis geneem en die slagoffer ongedeerd teruggevind is. Die losprysgeld is ook teruggekry. Hierna is die ondersoekers terug Kriel toe waar nog drie verdagtes in hegtenis geneem is.
Sekgotodi sê die saak is na Maandag uitgestel vir regshulp en die aanstel van private prokureurs.
Maj.genl. Gerber, provinsiale hoof van die Valke, het die span geprys wat die kind teruggevind het.
“Die generaal het verder bystand van alle gemeenskapslede versoek om hande te vat om die vlaag van ontvoeringsvoorvalle wat in die provinsie aan die toeneem is, te beveg.”
“Die ouers en publiek word gemaan om hul kinders in te lig dat hulle nie saam met enigiemand mag ry nie, tensy dit spesifiek deur die ouers gereël en hulle daaroor ingelig is. Opvoeders word versoek om leerders oor die kwessie tydens byeenkomste en vergaderings bewus te maak. Die departement word versoek om veiligheid by skole te verseker en toegang tot skoolpersele te beperk.”