GAUTENG. – ‘n Pa, seun en nog ‘n verdagte is Maandag vir die beweerde besit van goud, platinum en kontant met ‘n geskatte waarde van R10.2 m. gearresteer.
Lt.kol. Lloyd Ramovha van die Valke sê Zaid Jacob (22), Shaheen Jacob (62), en Muhammed Raees (24) is tydens ‘n gesamentlike operasie deur die Valke, Benoni-polisie en Metro-honde-eenheid in hulle motorvoertuie by die Crownwood Office Park gearresteer. R100 000 in kontant is glo in een verdagte se besit aangetref, terwyl die ander een R70 000 by hom gehad het. Dit is vermoedelik opbrengste van goudverkope. Ramovha sê die voorlopige ondersoek het onthul daar word ongelisensieerd met vervalde permitte as goudhandelaar op die perseel sake gedoen. Tydens deursoeking is aansienlike hoeveelhede goud en platinum met ‘n geskatte waarde van R5 m., asook R5 m. in kontant gekonfiskeer. By die Meyersdal Eco Estate en Theta Office is skale, rekenaars en kluise aangetref. ‘n Saak is by Booysens-polisiestasie geopen.
Die beskuldigdes het vandag (Woensdag) op aanklagte van die onwettige besit en handeldryf in goud, asook tweedehandse juwele, sonder geldige permitte, in die Booysens-landdroshof voorgekom. Die saak is deur die Booysens-landdroshof tot Vrydag uitgestel, wanneer borgaansoeke in die Johannesburg-landdroshof aangehoor sal word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





