GAUTENG. – ‘n Bejaarde man (87) is Saterdag dood in sy huis aangetref, nadat sy motorvoertuig verlate op die Soutpanpad, noord van Pretoria, gevind is.
AO Johan van Dyk sê ‘n veiligheidsbeampte van Lifeguard Security het nadat die blou Audi A4 verlate gevind is, ‘n welstandsbesoek by die eienaar se huis in Gezina, in die Moot van Pretoria, afgelê. Die veiligheidsbeampte het omstreeks 13:55 by die huis aangekom en die agterdeur van die huis gedeeltelik oop gekry. Die liggaam van die bejaarde is in die hoofslaapkamer van die deurmekaar huis aangetref. Die polisie is ontbied.
Van Dyk sê misdaadtoneeldeskundiges het beide die tonele vir leidrade en bewysstukke geprossesseer.
Enigiemand met inligting in verband met die moord word versoek om na vore te kom.
Kobus Olivier van Lifeguard Security het aan die Rekord gesê Apiesrivier-Noord Gemeenskapsforum het die verlate voertuig aangemeld. Gesteelde goedere was glo in die voertuig gevind.





