’n Vermeende wilddief is dood nadat hy en ’n tweede verdagte na bewering onwettig die Krugerwildtuin deur die Pafuri-gebied binnegegaan het.
Volgens JP Louw, woordvoerder van SANParke, het veldwagters Saterdag 12 September inligting ontvang dat twee verdagtes die vorige dag die park binnegegaan het.
Voorlopige inligting dui daarop dat die twee mans in die park op ’n trop olifante afgekom het en in verskillende rigtings gehardloop het. Hulle het daarna kontak met mekaar verloor.
Een van die verdagtes is later terug na sy huis toe en het aangemeld dat sy makker vermis is. Hy het glo gesê hy het die man tydens die voorval hoor skree.
Die voorval is by die polisie aangemeld. Met die hulp van die plaaslike gemeenskap is een van die verdagtes in hegtenis geneem. Hy het daarna erken dat hy die park onwettig binnegegaan het.
Die verdagte is saam met SANParke-veldwagters vanaf die Pafuri-veldwagterpos na die gebied waar die voorval vermoedelik plaasgevind het. Die veldwagters het spore vanaf die Luvuvhurivier sowat ses kilometer die park in gevolg waar hulle op die liggaam van die vermiste verdagte afgekom het.
Tydens die soektog is ook die oorblyfsels van ’n buffel gevind wat vermoedelik onwettig gejag is. Die polisie is oor die bevindings ingelig en sal met die nodige ondersoek- en forensiese prosesse voortgaan.