NOORD-KAAP. – Simbarashe Chimbowa (31), ’n Bolt-bestuurder wat vroeër as vermis aangemeld is, is opgespoor en weens oortreding van die immigrasiewet in hegtenis geneem. Sy ma het hom as vermis aangemeld nadat hy op 21 Julie laas gesien is.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring Chimbowa is Maandag (21 Julie), omstreeks 23:00, saam met twee ander mans, Elias Mzonjani (47) en Believe Chikate (25), buite Douglas op die Kimberley-pad in ’n blou Ford Focus deur Douglas-polisiebeamptes aangekeer. Die drie het Vrydag vlugtig in die Douglas-landdroshof verskyn.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 29 Julie uitgestel. Beslag is gelê op die voertuig waarin die drie gery het. Enigiemand met relevante inligting wat die ondersoek kan help, word gevra om AO Calvin Botha by 082 908 3623 te bel.





