GAUTENG. – Die polisie in Gauteng het Vrydag op ‘n huis in Sandton afgekom waar vervalste simkaarte vermoedelik vervaardig is. Altesaam 45 verdagtes, 43 vermeende onwettige immigrante, is in hegtenis geneem. Twee van die verdagtes is Suid-Afrikaners.
Kol. Mavela Masondo sê die georganiseerde misdaadondersoekeenheid het op ‘n huis toegeslaan waar op duisende simkaarte van verskeie selfoonnetwerke en rekenaars afgekom is.
Masondo sê volgens vermoede word die simkaarte op die perseel gemaak. Selfoonnetwerktegnici is na die toneel ontbied, waarna bevestig is dit is vervalste simkaarte.
Die verdagtes sal op aanklag van die oortreding van die kuberwet, bedrog en onwettige immigrasie in die hof verskyn.
Masondo sê meer verdagtes mag soos die ondersoek voortduur in hegtenis geneem word.








