VF Plus se voorvrou van Limpopo sterf

Lees ook :

Foto: VF Plus Limpopo

LIMPOPO. – Marcelle Maritz, provinsiale LPW wat sedert 2019 die posisie in die VF Plus in Limpopo beklee het, is Vrydagaand tuis in Mokopane (Potgietersrus) oorlede.

Maritz sal veral onthou word vir hoe sy die voortou ná plaasaanvalle geneem het om families by te staan.

Die oorsaak van Maritz se dood is onbekend. Volgens ‘n betroubare bron aan Die Pos-Koerant het Maritz in haar huis se gang ineengestort.

Dr. Pieter Groenewald, die leier van die party en ook minister van korrektiewe dienste, sê Maritz se afsterwe laat ‘n groot leemte:

Die VF Plus het met skok en leedwese verneem van die skielike afsterwe gisteraand van Marcelle Maritz (LPW), die party se provinsiale leier en LPW in Limpopo.

Marcelle was wyd bekend in Limpopo en haar afsterwe is nie net ʼn verlies vir haar geliefdes en familie nie, maar ook vir die VF Plus en haar gemeenskap wat sy onbaatsugtig en met groot ywer gedien het

Sy was sedert 2019 die VF Plus se leier in Limpopo en was bekend as ʼn hardwerkende LPW.

Die boeregemeenskap het haar veral na aan die hart gelê en daar was bykans nie ʼn enkele plaasmoord of -aanval in Limpopo waar sy nie die slagoffers of hul naasbestaandes besoek het nie.

Net so het sy met groot ywer en deernis hospitale besoek en het groot meegevoel getoon vir mens en dier wat in nood en lyding verkeer het.

Marcelle sal onthou word as iemand wat waarlik in diens van haar gemeenskap gestaan het en vir hulle gewerk het. Sy sal ʼn groot leemte laat.

As leier van die VF Plus wil ek persoonlik ook my medelye aan haar geliefdes en familie oordra en hulle sterkte toewens. Mag hulle vertroosting vind in ons Hemelse Vader.

  • Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief