GAUTENG. – Vier mense is Donderdagoggend dood verklaar na ‘n gewelddadige skietinsident by ‘n taxistaanplek in die Jeppe-polisiëringsgebied. Volgens die polisie het ‘n groep verdagte mans lukraak op mense losgebrand.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi sê nog drie persone is met beserings na ‘n hospitaal geneem, van wie een ‘n universiteitstudent was wat op ‘n bus gewag het. Die polisie vermoed die skietinsident hou met taxigeweld verband. Die insident sal deur die provinsiale eenheid vir taxigeweld ondersoek word.
Nevhuhulwi sê nog drie persone is Woensdag tydens ‘n skietery in Zonkizizwe by ‘n taxistaanplek afgemaai. Onbekende persone in ‘n wit BMW het op die mense by die taxistaanplek geskiet. Die oorledenes is as taxibestuurders geïdentifiseer. Twee beseerde passasiers is na ‘n hospitaal geneem.
Nevhuhulwi sê daar word nog na die verdagtes gesoek.





