GAUTENG. – Vier verdagtes het Maandag op verskeie aanklagte, insluitend ontvoering, bedrog, roof met verswarende omstandighede, die voordoen as ’n polisielid, onwettige besit van ’n outomatiese vuurwapen en onwettige besit van ammunisie in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê daar word beweer dat die aangeklaagdes op 10 Oktober, om ongeveer 10:00, terwyl hulle Hawks-T-hemde gedra het, ’n voertuig van ‘n 42-jarige gestop het. Hulle het na bewering vuurwapens op die man gerig, hom uit sy voertuig gedwing, sy hande vasgemaak, sy kop met ’n T-hemp toegemaak en hom in ’n wit Golf GTI gedwing en ontvoer.
Terwyl die verdagtes met die voertuig op die R80-snelweg gery het, het lede van die Tshwane-voertuigmisdaadeenheid (VCIU) dit opgemerk. Navraag het getoon dat die registrasienommer nie aan die voertuig behoort nie. Dit is tot stilstand gedwing, waarna deursoeking ‘n AK-47-aanvalsgeweer, verskeie rondtes lewendige ammunisie, blou waarskuwingsligte, kabelbinders, ‘n sirene en T-hemde met polisie-embleme aan die lig gebring het.
Die polisie het al vier verdagtes onmiddellik in hegtenis geneem en die slagoffer gered. Die saak is vir borgtoginligting tot 20 Oktober uitgestel.





