‘n Video wat @Uncle Seeno, inhoudskepper op TikTok, geplaas het, het woede ontlok nadat ‘n leerling aan die Hoërskool Duinveveld op Upington die inhoudskepper ‘n k***** genoem het. Nog twee jongmense word saam met die leerling in die video gesien.
In die regstreekse video kan gehoor word hoe die leerder sê: “Yo yo yo, what up my n*****,” gevolg deur ‘n woordewisseling waar die inhoudskepper vra: “Het jy my net ‘n n***** genoem ?”
Die situasie eskaleer soos die leerder voortgaan en sê: “Ek het gesê jy is ‘n k*****. Hallo k*****. Gaan jy ons plaas? Maar jy moet die deel byvoeg waar ek jou swart n*** noem.” Die leerder dreig dan en sê dat as hy nie “môre” op TikTok verskyn nie, hy hom (Uncle Seeno) sal doodskiet.
Die kanaal doen klaarblyklik video’s saam met tieners en al wat in die beskrywing van die kanaal staan is: Alhamdulillah, wat in Arabies beteken: “Prys God”.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys in die Noord-Kaap, het aan Nuusflits bevestig dat die seun wat in die video praat, ‘n leerling aan die Hoërskool Duineveld is. “Die departement veroordeel die voorval ten sterkste en het die Hoërskool Duineveld aangeraai om die nodige dissiplinêre stappe te neem in ooreenstemming met die skool se gedragskode. Ons doen verder ‘n beroep op wetstoepassingsagentskappe om hierdie saak vinnig te hanteer. Voorvalle soos hierdie keer die winste wat ons as ‘n reënboognasie gemaak het oor die afgelope 30 jaar van demokrasie om. Dit is onaanvaarbaar en as ‘n departement het ons ‘n nul-toleransie-standpunt teen rassisme ingeneem.” Van der Merwe sê die departement het nie tans meer inligting oor die voorval of wie die ander twee persone in die video is nie. “Ons sal môre meer inligting hê.”
Bronne na aan Hoërskool Duineveld het berig dat die betrokke leerder in die skool se koshuis is. In reaksie op die voorval is die koshuishekke glo gesluit, leerders is verbied om skooldrag in die dorp te dra en meeste buitemuurse aktiwiteite is volgens ingeligtes gekanselleer.
Nuusflits het na die Noord-Kaapse departement van onderwys en Hoërskool Duineveld uitgereik vir kommentaar en ons sal die berig opdateer sodra meer inligting beskikbaar is.