KWAZULU-NATAL. – Vier verdagtes wat glo Sondag drie vroue vir meer as twee uur, met die vermoedelike doel om hulle te vermoor, in Canelands aangehou het, is deur die polisie en Rusa in hegtenis geneem.
Reaction Unit South Africa sê ‘n meisie (15) wat ontsnap het, het omstreeks 19:25 hulp vir haar ma en ‘n vriendin van ‘n reaksievoertuig in die industriële gebied gevra.
Na bewering het die meisie en haar vriendin omstreeks 17:00 in die informele nedersetting gestap toe die verdagte mans hulle oorweldig het. Hulle is met messe en ‘n vuurwapen tot by ‘n nabygeleë huis gedwing. Die vroue is glo ‘n tyd lank aangerand terwyl hulle moes aanhoor waar hulle liggame begrawe sou word. Die 15-jarige meisie het badkamer toe gegaan en daarin geslaag om te ontsnap en hulp te kry.
Verulam-polisie en Rusa het op die huis toegeslaan en die slagoffers, wat verskeie beserings opgedoen het, gered, terwyl die verdagtes in hegtenis geneem is. Daar is op tou, verskeie messe en ‘n 9 mm-pistool beslag gelê.
Die tienermeisie het die een verdagte glo as haar ma se gewese kêrel herken. Die ma het wetstoepassers ingelig sy het haar gewese kêrel vir aanranding in Februarie laat aankla, waarna hy glo beplan het om haar te vermoor sodat sy nie in die hof kon getuig nie.
Volgens Rusa is die verdagtes glo deel van ‘n bekende bende wat die Canelands terroriseer.





