VSA. – Petrus Jacobus Viljoen (57) en Melany Juanita Viljoen (39) word tans by twee verskillende immigrasie-aanhoudingsfasiliteite (ICE) in die Verenigde State aangehou, volgens inligting wat op die webwerf van die departement van binnelandse veiligheid (Department of Homeland Security) gepubliseer is.
Kyk ook:
Volgens ICE is albei in aanhouding in Florida, maar by verskillende fasiliteite wat ongeveer 160 km van mekaar is. Melany word by die Broward Transitional Center aangehou, terwyl Peet Viljoen by Florida Soft Side South Detention Facility aangehou word. Florida Soft Side South is ’n relatief nuwe immigrasie-aanhoudingsfasiliteit in die Everglades naby Ochopee en huisves slegs manlike aangehoudenes. Volgens aanhoudingsmoniteringsdata kan die fasiliteit meer as 1 400 persone op ’n slag huisves. Omdat baie immigrasie-aanhoudingsfasiliteite in die VSA slegs mans of slegs vroue huisves, gebeur dit gereeld dat persone wat saam in hegtenis geneem word later by verskillende sentrums geplaas word.
Om in die ICE-databasis gelys te wees beteken gewoonlik dat immigrasie-owerhede tans ’n persoon se regsstatus in die Verenigde State hersien en moontlik verwyderings- of deportasieprosesse kan begin. Ten tyde van publikasie dui die ICE-databasis steeds aan dat albei Viljoens “in ICE custody” in Florida is.
Nuusflits het vroeër berig dat die paartjie op 10 Maart 2026 in Boca Raton in hegtenis geneem is nadat polisie beweer het hulle was betrokke by ’n winkeldiefstal-skema by ’n Publix-supermark. Ondersoekers beweer die paartjie het ’n metode gebruik wat as “ticket switching” bekend staan – waar goedkoper strepieskodes vir duurder items geskandeer word sodat produkte teen ’n laer prys betaal of glad nie betaal word nie. Owerhede beweer kruideniersware ter waarde van meer as $5 300 is tydens die skema uit die winkel geneem. Volgens die polisie is Peet Viljoen tydens ’n verkeersstop inhegtenis geneem nadat ’n swart 2016 Land Rover Range Rover wat met die voorvalle verbind is, voorgekeer is. Peet Viljoen het tydens ondervraging erken dat hy en sy vrou op die videomateriaal in die winkel is, maar hy ontken dat hulle aan “ticket switching” deelgeneem het. Melany Viljoen het volgens polisie gesê sy was verantwoordelik vir die diefstal en dat haar man nie betrokke was nie. Sy het aangevoer dat sy in ’n “oorlewingsmodus” was omdat sy sedert haar aankoms in die VSA nie kon werk nie weens ’n gebrek aan ’n visum. Melany Viljoen is by die egpaar se woonplek in hegtenis geneem.
Die Boca Raton Police Department, deur sy openbare inligtingsbeampte Jessica Desir, het ook liggaamskamera-beeldmateriaal van die arrestasie aan Nuusflits beskikbaar gestel. Die Publix-winkel waar die beweerde voorvalle plaasgevind het, het intussen versoek dat vervolging teen die egpaar ingestel word. Albei staan tereg op aanklagte van ernstige kleinhandelbedrog van meer as $3 000. Volgens ondersoekers het die beweerde gesteelde items onder meer Maison Perrier Forever Lime Sparkling Water, Sanpellegrino mineraalwater, La Marca Prosecco vonkelwyn, Coca-Cola Zero, piesangs, aartappels, eiers en selfs toiletpapier ingesluit. Volgens hofstukke het ondersoekers 52 transaksies by die selfbedieningskassas van die winkel nagegaan. In dié transaksies is 392 items nie behoorlik geskandeer nie, waarvan 369 op toesigkamera-beeldmateriaal bevestig kon word. Die totale verlies vir die winkel word op $5 302.17 (meer as R98 000) geraam.
Die paartjie, wat ook bekendheid verwerf het deur hul verskynings in die Suid-Afrikaanse realiteitsreeks The Real Housewives of Pretoria, word daarvan beskuldig dat hulle oor sowat ses maande saam aan die beweerde skema deelgeneem het.







