Iets is nie pluis met die groot sot-seeskilpad (loggerhead turtle) nie, het ‘n groep vissers op hul boot naby Houtbaai dadelik besef toe dit rondgedryf het sonder om te reageer op dorado wat in die omte was, of op die boot wat nader gevaar het.
Die dier was duidelik siek en het hulp benodig.
Nadat hulle die Twee Oseane-akwarium om raad gevra het, het hulle die seeskilpad in die boot gelaai en na die hawe gevaar, waar ‘n bewaringspan van die akwarium hulle ingewag het. Dit was uit die staanspoor duidelik dat die dier baie swak was.
“Luis”, die sot-seeskilpad, is tans by die Twee Oseane-akwarium, waar dit versorg word totdat dit sterk genoeg is om vrygelaat te word.
Behalwe vir ‘n paar seerplekke, ‘n skewe neus en baie brandganse (goose barnacles), lyk die dier op die oog af tans heel goed – wat die vermoede laat onstaan dat dit inwendig siek is.
Die skilpad sal verskeie toetse ondergaan, insluitende X-strale. Die span is egter optimisties omdat dié diere taai is.
Hoewel dit normaalweg moeilik is om die geslag van ‘n seeskilpad vas te stel sonder om dit noukeurig te ondersoek, meen die span dat, gemeet aan die lengte van sy stert, dit ‘n mannetjie is.
Mannetjie-seeskilpaaie keer nooit terug na die land nie, wat hierdie ‘n ervaring gaan maak om te onthou – in wat hopelik ‘n lang see-lewe gaan wees.
Die akwarium sal nuwe inligting aanlyn aanbring sodra die skilpad se toestand verander. Mense wat die bewaringswerk van die Twee Oseane Akwarium se Opvoedingstigting wil ondersteun, en wat wil help om Luis te rehabiliteer, kan hier ‘n bydrae maak: https://www.aquarium.co.za/shop/
Wat ‘n begin vir Nasionale Mariene-maand!