Vlieënier sterf – soektog na 2de vliegtuig eindig ook tragies

Lees ook :

Foto's: KZN Department of Transport

KWAZULU-NATAL. – Twee ligte vliegtuie het Woensdag in Nottingham in die KwaZulu-Natalse Middellande vermis geraak. ‘n Noodberig (mayday) is ontvang, waarna ‘n soektog geloods is. ‘n Wrak van een van die vliegtuie is later die aand deur die soek-en-reddingspan opgespoor. Die vliegtuig was aansienlik beskadig en die vlieënier is noodlottig beseer. Die soektog na die ander vliegtuig het kort gelede ook tragies geëindig.

Luidens ‘n verklaring wat Woensdagaand deur Sisa Majola, burgerlugvaartowerheid-woordvoerder (SACAA) uitgereik is, ondersoek die afdeling vir ongeluk- en insidentondersoeke (AIID)voorval. Die vliegtuig wat eerste gevind is,’n Sling (ZU-PBC), het op ’n privaat vlug met net die vlieënier vanaf die Secunda-lughawe in Mpumalanga vertrek, met sy bestemming Margate-lughawe aan die KwaZulu-Natalse Suidkus. Toe die vliegtuig nie by Margate land nie, is die lugreddingskoördinasiesentrum (ARCC) in kennis gestel en ’n amptelike soektog van stapel gestuur. Die wrak is gevind en die vlieënier is dood verklaar.

Majola het kort gelede in ‘n verklaring bevestig dat die tweede vliegtuigwrak met die oorlede vlieënier omstreeks 07:00 in die Boston-omgewing opgespoor is. Die vlieënier was die enigste persoon aan boord. Daar word geglo dat albei vliegtuie saam vanaf die Secunda-lughawe in Mpumalanga opgestyg het met bestemming Margate-lughawe aan die KwaZulu-Natalse Suidkus. Nadat hulle in slegte weerstoestande as vermis aangemeld is, is ‘n soektog van stapel gestuur wat tot die opsporing van albei vliegtuie gelei het.

’n Span is tans op die toneel om bewyse in te samel wat deel sal vorm van ’n voorlopige verslag wat binne 30 dae vanaf die datum van die voorval op die webwerf van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid gepubliseer sal word. “Die AIID betuig medelye aan die families en geliefdes,” het die verklaring afgesluit.

KZN se departement van vervoer het ook ‘n verklaring op sosiale media gemaak dat die tweede ligte vliegtuig gevind en die vlieënier ook noodlottige beserings opgedoen het. Siboniso Duma, die LUR vir vervoer en menslike nedersettings, het ‘n verslag van kenners van die lugreddingskoördinasiesentrum ontvang.

Ndabezinhle Sibiya, woordvoerder vir die departement van vervoer en menslike nedersettings, sê in die verklaring die verslag is omstreeks 07:20 ontvang. Die tweede vliegtuig is gevind en die tweede vlieënier het ook gesterf. Medelye is aan die families van die twee vlieëniers oorgedra. Die liggame van die twee vlieëniers sal vanoggend herwin word. Duma het Woensdagaand gesê die eerste vliegtuig is met behulp van ‘n hommeltuig en moderne tegnologie opgespoor. Weens ongunstige weerstoestande kon die span egter nie die liggaam uit die wrak herwin nie. Hy het bygevoeg dat die soek-en-reddingspogings later opgeskort is, maar dat die soektog vanoggend (Donderdag) sou hervat word.

Die padverkeersinspektoraat pas verkeerbeheer in Nottinhamweg toe en versoek motoriste en toeskouers om nie met die reddingsoperasies in te meng nie.

Duma het verder gesê die departement het reeds in April sy planne vir die lugvaartbedryf, soos bepaal deur verskeie regulasies, insluitend die wet op ekonomiese regulasies vir vervoer, aangekondig. “Ons is betrokke by beduidende werk by verskeie lughawens soos Margate, Oribi, Umkhuze, Richardsbaai en Virginia. Ons werk tans saam met relevante departemente, waaronder die Suid-Afrikaanse burgerlugvaartowerheid, die lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, asook die departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake,” het hy afgesluit.

Hulde is aan die soek-en-reddingspanne vir hul harde werk en toewyding gebring. Burgerlugvaart se afdeling vir ongeluk- en insidentondersoeke is reeds besig met ‘n ondersoek.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief