VSA. – Die Amerikaanse departement van justisie het ’n voorlopige ooreenkoms met Boeing aangegaan wat sal verhoed dat die maatskappy vir bedrog aangaande twee vliegtuigongelukke verhoor word.
Lees ook: Regter verwerp Boeing se pleitooreenkoms ná vliegtuigongelukke
Boeing het ingestem om meer as $1.1 miljard en ’n addisionele $445 miljoen aan die slagoffers se families te betaal. In ruil vir die betaling sal die departement van justisie die bedrogsaak teen Boeing laat vaar, wat sal keer dat ’n kriminele skuldbevinding die maatskappy se status as ’n federale kontrakteur skaad.
Paul Cassell, ’n prokureur vir van die slagoffers se families, het gesê die families gaan beswaar maak teen die ooreenkoms en die hof probeer oortuig om die ooreenkoms te verwerp.
Die ooreenkoms volg ná twee nuwe Boeing 737 Max-vliegtuie in 2018 en 2019 in ongelukke was weens ‘n foutiewe sensorlesing wat die vliegtuie onbeheerbaar grond toe laat duik het. Altesaam 346 mense het in die twee rampe gesterf.
Boeing is daarvan beskuldig dat dit die Federale Lugvaartadministrasie oor sekere aspekte mislei het voor die vliegtuie vir vlugte gesertifiseer is.
Die justisiedepartement sal die geskrewe ooreenkoms met Boeing na verwagting teen die einde van volgende week indien. Met die nuwe ooreenkoms sal Boeing nie meer deur ’n onafhanklike monitor onder oorsig wees nie.
Bronne: Euronews, The Straits Times, USA Today
Lees ook: Regter besluit binnekort oor Boeing-pleitooreenkoms





