Brekende Nuus
Afrikaans

Voormalige polisielede wat afpers, gevonnis

Foto: Ter illustrasie Canva
Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – Lehlogonolo Tsagane (47) en Jabulani Ngobeni (47) het op 28 November 2020 ‘n sakeman van Rivonia vir R1.5 m. probeer omkoop, maar R14 000 aanvaar. Beide is vir afpersing tot 10 jaar tronkstraf gevonnis.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die polisielede was aan diens en in volle uniform toe hulle inligting ontvang het van klere met die polisie-embleem op by ‘n drukkersbesigheid.

Hulle het die sakeman, Maxwell Chiyangwa, met inhegtenisneming gedreig en eers R1.5 m. geeïs, waarna hulle R14 000 aanvaar het. Chiyangwa moes die geld in sy vrou se rekening inbetaal en is onder bewaking van nog ‘n polisielid gelos. Die voormalige lede het Chiyangwa se vrou na Woodmead-inkopiesentrum vergesel om die geld te onttrek.

Chiyangwa het die voorval aan owerhede gerapporteer en dit is deur die provinsiale anti-korrupsie-eenheid ondersoek. Die voormalige polisiebeamptes is beveel om hulleself op 21 September 2022 by Johannesburg Sentraal-polisiestasie oor te gee.

Rhyme Nchabeleng, staatsaanklaer, het ter verswaring tydens vonnisoplegging aan die hof voorgehou die voormalige polisiebeamptes het hulle mag in hulle vertrouensposisie misbruik. Die hof het die feit dat hulle skuldig gepleit het, eerste oortreders was en die bedrag ter sprake tydens vonnisoplegging in ag geneem.

Beide is deur die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof in Palmridg skuldig bevind en gevonnis.

“Die NVG maak meetbare vordering met hoëprofielsake van korrupsie. Byna 700 staatsamptenare is sedert 2019 aan korrupsie skuldig bevind. Ons bly daartoe verbind om die wet te handhaaf en te verseker dat diegene wat dit oortree, selfs diegene wat gesweer het om dit af te dwing, die volle mag van geregtigheid in die gesig staar,” sê Mjonondwane.