WELKOM, VRYSTAAT. – Manie Richard Williams (66), ‘n pensioenaris en voormalige adjudant-offisier, is op 8 Mei ‘n opgeskorte vonnis deur die Welkom-landdroshof opgelê. Hy het ‘n staatshuis onwettig saam met huurders geokkupeer.
Kapt. Stephen Thankeng sê ondanks pogings om Williams sover te kry om die huis te verlaat, het hy vyf huurders onwettig in die staatshuis laat bly. Hy het sedert 2018 huurgeld ter waarde van R75 000 vir die huis in Fischerstraat, Dagbreek, ontvang.
Toe die ongerymdhede in Mei 2023 ontdek is, is ‘n bedrogsaak oopgemaak. Die teen-korrupsie-eenheid het die ondersoek behartig en Williams is op 21 Junie in hegtenis geneem, waarna hy borg van R1 000 op 3 Julie 2023 gekry het.
Williams is op twee aanklagte van bedrog in die Welkom-landdroshof tot vier jaar gevonnis, wat vir vier jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie vir bedrog, diefstal of poging tot diefstal skuldig bevind word nie. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuuwapen te besit.





