GAUTENG. – Hein Odendaal (68), die voormalige ouditeur van Steinhoff, is Donderdag deur die Pretoria Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof tot ’n boete van R2 000 000 of vier jaar tronkstraf gevonnis, nadat hy skuldig gepleit het.
Kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, sê Odendaal se vonnis is die vyfde suksesvolle veroordeling in die langlopende Steinhoff-saak. Hy is ook tot twee jaar ekstra tronkstraf gevonnis, opgeskort vir vyf jaar, met ’n jaar korrektiewe toesig as deel van ’n pleitooreenkoms met die Staat. Odendaal se veroordeling volg op sy rol by Steinhoff, waar hy nagelaat het om bedrog en fiktiewe inkomste wat tot misleidende geouditeerde finansiële state gelei het, by die polisie aan te meld. Hy het hom in Februarie 2025 aan die Valke oorhandig, net ure voor sy hofverskyning.
Die Steinhoff-saak draai om een van die grootste korporatiewe bedrogskandale in Suid-Afrika se geskiedenis. Die multinasionale meubel- en handelsgroep, wat ook die Pepkor-groep ingesluit het, het in 2017 ’n dramatiese ineenstorting beleef nadat rekeningkundige onreëlmatighede aan die lig gekom het. Beleggers is mislei deur vals finansiële state wat die maatskappy se wins en bateposisie beter voorgehou het as wat dit werklik was.
Stephanus “Stehan” Grobler, ’n voormalige senior uitvoerende bestuurder by Steinhoff, word aangekla van bedrog, manipulasie van finansiële state en deelname aan ’n georganiseerde kriminele onderneming wat miljoene rande se verliese vir beleggers veroorsaak het. Hy word verder beskuldig van versuim om onwettige aktiwiteite aan te meld en het dokumente geskep wat gefiktiewe transaksies gesteun het. Sy saak sal op 14 Mei 2026 voortgaan.
Die skandaal het nie net tot groot finansiële verliese gelei nie, maar ook streng regulatoriese aksies en hervormings in korporatiewe bestuur en finansiële verslaggewing in Suid-Afrika gestimuleer.
Bronne: SAPD en Wikipedia





