GAUTENG. – Die 46-jarige Ndodana Mkhanyisi Tshuma, wat deur die Verenigde Koninkryk op drie aanklagte van moord gesoek word, bly in aanhouding. Hy het vroeër vandag op twee afsonderlike sake in die Johannesburg-landdroshof verskyn, onder meer om uitgelewer te word. Volgens ‘n uitleweringsversoek word Tshuma daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Nothabo Zandile Tshuma, en hul twee kinders, Natalie en Nala Tshuma, in Bedford, Bedfordshire, vermoor het.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê Tshuma het in verband met die VK se versoek om sy uitlewering verskyn, asook op aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Die hof het die sake tot 27 Augustus uitgestel. Die uitleweringsaansoek is uitgestel om die nodige dokumentasie af te handel, terwyl die vuurwapensaak uitgestel is sodat die polisie hul ondersoek kan voortsit.
Mohlatlole sê Tshuma het SA op 5 Julie 2026 wettig by die OR Tambo Internasionale Lughawe binnegekom. Nadat die Britse owerhede hom as ‘n voortvlugtige verklaar het, het sy immigrasiestatus verander en word hy nou ingevolge die immigrasiewet as ‘n onwettige persoon in Suid-Afrika beskou. Hy is op 10 Julie 2026 in Kensington, Johannesburg, in hegtenis geneem nadat Interpol se nasionale sentrale buro in Pretoria ‘n versoek van die Britse owerhede ontvang het om hom op te spoor en aan te keer.
Die moord op die ma en haar twee jong dogters in Great Denham, naby Bedford in Engeland, het die Verenigde Koninkryk geskok en tot ‘n internasionale soektog gelei wat uiteindelik hier in Suid-Afrika geëindig het. Die liggame van Nothabo Zandile Tshuma (42) en haar dogters, Natalie (15) en Nala (5), is op 7 Julie 2026 in hul woning aangetref nadat kommer ontstaan het omdat die gesin vir etlike dae nie gesien is nie. ‘n Moordondersoek is deur die Britse polisie van stapel gestuur en Ndodana Mkhanyisi Tshuma, ook bekend as Mark, as die hoofverdagte geïdentifiseer.
Volgens ondersoekbeamptes het Tshuma die VK reeds op 4 Julie via Heathrow-lughawe verlaat en na Zimbabwe gereis voordat hy later na Suid-Afrika gekom het. Die Crown Prosecution Service (CPS) het intussen drie aanklagte van moord teen hom aanhangig. Die ondersoek in die VK duur voort, terwyl Britse owerhede saam met Suid-Afrikaanse wetstoepassers werk om Tshuma uit te lewer sodat hy in die VK op die moordaanklagte tereg kan staan. Tshuma het nog nie op die moordaanklagte gepleit nie en die aanklagte moet nog in ‘n Britse hof voorkom.
Die Bedfordshire-polisie het speurders van die Tri-Force Major Crime Unit, saam met ander gespesialiseerde ondersoekspanne, ontplooi om die saak te ondersoek. Op 8 Julie het die Bedfordshire-polisie ‘n kringtelevisiefoto (CCTV) van Ndodana Mkhanyisi Tshuma, ook bekend as Mark, vrygestel.
Bronne: Bedfordshire Police, Crown Prosecution Service, NGV, Sky News





