OOS-KAAP. – ‘n Raadslid se assistent (47) is vanoggend (Donderdag) omstreeks 08:00 deur verdagtes doodgeskiet waar sy in Dubulastraat, New Brighton, buite ‘n eiendom gewag het dat die veiligheidshek oopgemaak word sodat sy toegang tot haar voertuig kon kry.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die vrou is op die toneel dood verklaar nadat verdagtes haar geskiet het. ‘n Saak van moord is deur New Brighton-speurders geopen. Die motief vir die voorval is nog onbekend en maak deel uit van die ondersoek.
Gananta versoek enigiemand met relevante inligting om na vore te kom. Speur.AO Ryan van Eck kan by 083 469 4371 gebel word.
Op die Voiceoftruth Jason-Facebook-blad word gesê; “Hierdie moord is ’n wekroep vir ons almal. Die stad bloei en as daar nie deurslaggewende stappe geneem word nie, gaan die geweld net toeneem. Vir nou rou New Brighton, maar ons mense eis antwoorde, geregtigheid en vrede.”