NOORD-KAAP. – ‘n Vrou is glo op 24 Junie omstreeks 19:00 by haar woonsteldeur op De Aar deur verdagtes oorval, beroof en verkrag. Die polisie het Vrydag twee verdagtes in hegtenis geneem.
Sers. Merapelo Pilane sê die vrou is die betrokke aand na bewering deur twee verdagtes met messe oorval toe sy haar woonsteldeur aan die oopsluit was nadat sy by die winkel was. Sy is gedreig om nie te skree nie, waarna sy glo deur beide verdagtes verkrag en daarna beveel is om te bad. Die slagoffer se woonstel is geplunder en die verdagtes het met selfone, ‘n skootrekenaar en klere van die toneel gevlug. Sy is in die woonstel toegesluit, maar kon daarin slaag om haar bure se aandag te trek. Die misdaad is aan die polisie gerapporteer.
Vrydag is een van die verdagtes opgemerk waar hy die vrou se skoene dra en hy is in hegtenis geneem. Die tweede verdagte is later in hegtenis geneem. Beide (28) is positief met die misdaad verbind.
Die verdagtes het op aanklagte van huisroof en verkragting in die De Aar-landdroshof voorgekom.
Pilane sê veiligheidswenke moet gevolg word, wat moontlik kan voorkom dat jy ‘n misdaadslagoffer word: wees altyd bewus van wat om jou aangaan, vermy om alleen in verlate plekke te wees, moenie alleen wees saam met mense wat jy nie vertrou nie, laat altyd iemand weet waar jy is en waak teen oormatige alkoholgebruik.





