Vrou in verskeie provinsies gesoek, in hegtenis

Lees ook :

Foto's: Reaction Unit South Africa

KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou van Gauteng, wat van verskeie aanklagte van onder meer bedrog en motordiefstal beskuldig word, is Dinsdagmiddag in Mount Edgecombe in hegtenis geneem.

Reaction Unit South Africa sê speurders en wetstoepassingsagentskappe uit drie provinsies het ná die inhegtenisneming met hulle kontak gemaak. Die vrou is deur samewerking van Rusa, Verulam-speurders en Wesbank se forensiese afdeling vasgetrek. Die polisie het Rusa gekontak om deel te wees van observasiedienste om die vrou en haar makkers vas te trek. Sy het met Bolt by ‘n motorhandelaar in Mount Egecombe aangekom waar sy vir ‘n bakkie moes teken en dit in ontvangs neem. Met die beweerde gebruik van ‘n vals ID aan die finansiële kantoor het sy die dokumente vir die bakkie geteken. Beamptes is die motorhandelaar binne en het haar in hegtenis geneem. Vervalste dokumente is ook glo in haar besit gevind.

Volgens Rusa was haar verweer sy werk vir ‘n gespesialiseerde polisie-eenheid in Johannesburg en tree in opdrag op om te help om bedrogverdagtes vas te trek. Name van polisiebeamptes wat haar glo gestuur het om die voertuig af te haal, is nagegaan en daar is gevind die polisiebeamptes bestaan nie.

Die vrou het erken sy kom van Gauteng. Sy sou gesteelde ID’s en vervalste dokumente aan finansiële instellings en motorhandelaars verskaf. Sy het glo die name van vroue wat by blue chip-maatskappye in diens was opgegee en voertuie sonder hulle medewete gekoop. Hulle sou eers daarvan uitvind wanneer ‘n balju vir wanbetaling by hulle opdaag om beslag op die voertuie te lê.

Tydens die beweerde bedrieëry sou sy dokumente vir voertuie teken en die vrystellingsnota bekom. Sy sou dan glo doodeenvoudig met ‘n splinternuwe voertuig wegry. Rusa sê die voertuig sou van die NATIS-sisteem verwyder word en kon nie weer opgespoor word nie.

Verdere inligting dui daarop dat sy by motorwasmaatskappye sou opdaag en luukse voertuie aan haarself sou toeëien. Sy sou glo die sleutels bekom en met die voertuie wegry. Voordat so ‘n voertuig as gesteel aangemeld kon word, sou die opsporingstoestel na bewering verwyder word.

Die vrou is ook gesoek nadat sy in ‘n splinternuwe Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie, ter waarde van R600 000, by ‘n motorhandelaar in KZN weggery het.

Die vrou word tans by Verulam-polisiestasie aangehou.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief