KIMBERLEY. – Estee Huyser Neethling het Vrydagmiddag ’n man, wat in ’n gru-ongeluk betrokke was en wat sy van geen kant af ken nie, se lewe probeer red.
James Spicer (39) was Vrydagmiddag omstreeks 17:00 in ’n gru-ongeluk betrokke nadat hy na bewering ’n epileptiese aanval gehad het. Die ongeluk het in Memorialweg, agter Choctaw Spur, plaasgevind.
So vertel Estee aan FiND iT van die gebeure wat haar lewe verander het.
Stil en rustig
“Ek het self daardie dag nie ’n lekker dag gehad nie en het skuiling by my werksplek gaan soek. Ons kantoor maak op ’n Vrydag 13:00 toe, so dit was lekker stil en rustig. Ek het buite gewag, want my vriendin was op pad na my toe. Die volgende oomblik hoor ek ’n slag en sien ’n wit ding halfpad in die lug vlieg.”
Skok
Sy sê sy was so geskok en het nie geweet wat om in daardie stadium te doen nie. “Ek het na die voertuig gehardloop, maar het so vier meter voor die voertuig gestop, omdat ek nie geweet het of dit gaan ontplof of nie. Ek het die kans gevat en tot by die voertuig gehardloop.
Byt vas
“’n Man het langs die voertuig gelê en na my gekyk. Al wat ek in daardie oomblik vir hom kon sê was om vas te byt. Hy het iets vir my probeer sê, maar ek kon nie hoor nie,” vertel sy.
Bang
Sy sê ’n onbekende man, wat sy nie geweet het van waar gekom het nie, het op sy hurke gaan sit en gevra dat sy die man, wat buite die voertuig lê, se kop vashou. “Ek het sy kop tussen my knieë vasgedruk en met my hande gestut. Ek was in daardie oomblik so bang.
Ambulansdienste
“Die onbekende man het die gewonde man toe probeer resussiteer. Die ambulansdienste het opgedaag, alhoewel ek nie regtig veel daarvan onthou nie. Paramedici het vir my gesê hulle sal nou by my oorvat, maar voor ek kon loop, het iets binne my gesê ek moet om die voertuig loop.”
Familie
Sy sê sy het ’n papier van ’n skool, met ’n kind se naam op, gesien en ’n paar mense gebel om die gewonde man se vrou op te spoor. “Voor ek die nuus aan haar wou breek, wou ek eers seker maak ek het by die regte persoon uitgekom. Ek het haar ’n paar vrae gevra en het haar toe vertel oor die ongeluk en wat gebeur het.”
Estee vertel ook hoe sy die oorledene se sussie by Lenmed-hospitaal ontmoet het en terug na die toneel saam met haar gegaan het.
Hartseer
“Ek het die man glad nie geken nie en het eers later op Facebook gesien sy naam is James Spicer. Ek wil heeltyd huil oor wat gebeur het en wens daar was meer wat ek kon doen.”