Brekende Nuus
Afrikaans

Vrou se liggaam uit strandmeer gehaal

Foto: NSRI
Foto: NSRI

WES-KAAP. – Die liggaam van ‘n onbekende vrou is Donderdag uit die Knysna-strandmeer naby Belvedere gehaal. ‘n Egpaar van die buiteland wat met vakansie is, het die liggaam opgemerk.

Jerome Simonis, stasiebevelvoerder van Knysna-NSRI, sê diensbemanning wat reddingswemmers en ‘n reddingsboot insluit, is omstreeks 07:40 geaktiveer. Die polisie se watereenheid en duikers is ook ontplooi.

Die liggaam van die vrou, vermoedelik in haar 40’s, is opgespoor en uit die water gehaal. Sy het volgens vermoede vis gevang en was in ‘n maroenkleurige bostuk en ‘n donker broek geklee.

Sy is dood verklaar en haar liggaam aan patologiese dienste oorhandig.

Enigiemand wat die polisie kan bystaan om haar te identifiseer, word gevra om die Knysna-polisiestasie by 044 3026609 te bel.