GOLD COAST, AUSTRALIË — Katie Robinson waarsku ouers nadat haar babaseun Dustin Wildman (14 maande), oftewel Dusty, versieringspoeier ingeasem en daarna sy bewussyn verloor het. Dusty veg vir sy lewe in ‘n hospitaal waar hy in ‘n geïnduseerde koma geplaas is.
Robinson, ‘n koekbakker, was besig om ‘n Bluey-tema-koek vir ‘n vriendin se kind te bak, toe sy die skok van haar lewe kry. Sy was besig in haar ateljee en Dusty het daar gespeel. Terwyl sy besig was, het die nuuskierige baba ‘n laai oopgemaak, die deksel van ‘n potjie metalliese goue versieringspoeier met sy tande oopgemaak en ‘n groot hoeveelheid daarvan ingeasem. Dusty het onmiddellik begin hoes en het al hoe onrustiger geraak. Voor Robinson geweet het wat aangaan, het haar seuntjie voor haar oë bewusteloos geraak. ‘n Ambulans is ontbied en hy is dringend na die Queensland Kinderhospitaal in Brisbane vervoer, waar hy in ‘n koma geplaas is. Die poeier het met die vog in sy longe gemeng en in ‘n dik pasta verander wat sy lugweë geblokkeer het. Chirurge moes sy longe in ‘n teater skoonmaak. Dusty se toestand het intussen geleidelik verbeter. Dokters is egter nog bekommerd oor moontlike langtermynskade aan sy longe.
Laboratoriumtoetse het later bevestig dat die produk sink en koper bevat, met koper wat die ernstigste skade aanrig. Robinson is ontsteld omdat die poeier wat nie eetbaar is nie, sonder ‘n bestanddelelys verkoop en langs eetbare versieringsprodukte in winkels uitgestal word. “Jy sou nooit dink dat iets wat saam met koekversiering verkoop word van metaal gemaak is nie.” Die maatskappy wat die produk vervaardig, het intussen sy verspreiders gekontak om die verkoop daarvan te staak. Robinson se boodskap aan alle ouers en bakkers is eenvoudig en dringend — kyk in jou kombuis, maak seker jy weet wat eetbaar is en wat nie en hou alle poeiers buite bereik van kinders.
Dr. Nick Yim, voorsitter van die Australian Medical Association Queensland, sê die voorval met Dusty beklemtoon ‘n ernstige gevaar waarvan ouers dikwels nie bewus is nie. Volgens Yim is ‘n peuter se lugweë te klein om fyn stowwe of chemiese irritante te hanteer. Wanneer iets in ‘n kind se lugweë beland wat nie daar hoort nie, of dit nou kaneel, sigaretrook, damprook of chemikalieë is, kan dit die liggaam hewig laat reageer. Hierdie reaksie kan lei tot aanhoudende hoes, kortasem en moeite om asem te haal. Hy wys ook daarop dat baie produkte wat tans op die mark beskikbaar is, uit uiters fyn partikels bestaan, wat dit gevaarlik maak. Hoe fyner die partikels, hoe dieper kan hulle in die longe indring en hoe moeiliker is dit vir die liggaam om daarvan ontslae te raak. Dit kan lei tot prikkelbaarheid, ongemak en tot ernstige gevalle, soos dié van Dusty.
Bronne: Australian Broadcasting Corporation, People.com, 7 News, GoFundMe





