MPUMALANGA. – “Geen rede tot kommer langs die Krokodilrivier nie, maar enige ontruimingsbevele langs die De Kaap-rivier moet nagekom word.” Mbombela-munisipaliteit het Dinsdag ’n ontruimingsbevel uitgereik vir gemeenskappe stroom-af van die Senteeko-dam, omdat die damwal besig is om te verkrummel en moontlik kan meegee. Die Umjindi Barberton-raad het Dinsdag ’n ingenieursopdatering uitgereik.
Volgens Barberton DA-raadslid Philip Minnaar het die dam teen dié tyd nog nie meegegee nie en sal dit, indien dit sou gebeur, etlike ure neem voordat die dam volledig leegloop. Hy sê die Barberton-vallei en die boonste dele van die De Kaap-rivier sal die meeste geraak word, met water wat uiteindelik die Krokodilrivier sal bereik. Boere tussen Barberton en Kaapmuiden, asook inwoners naby die Suidkaap- en Noordkaap-riviere, kan geraak word indien dit gebeur. Barberton self sal moontlik nie geraak word nie. Paaie, brûe en laagwaterbrûe oor die betrokke riviere moet liefs vermy word.
Ingenieursassesserings dui volgens Minnaar daarop dat die moontlike meegee van die dam hoogstens ’n bykomende 50 kubieke meter water per sekonde vir sowat agt uur in die Krokodilrivier naby Matsulu sal vrylaat, wat beteken dat die rivier nie hoër sal wees as vorige piekvlakke oor die afgelope twee weke nie.
Hy het gesê daar is geen rede tot kommer langs die Krokodilrivier nie, maar dat enige ontruimingsbevele langs die De Kaap-rivier nagekom moet word weens moontlike vinnige stygings in watervlakke indien die damwal sou meegee. Alle relevante owerhede is volgens hom in kennis gestel en ’n tegniese span is tans op die terrein om die damstruktuur te evalueer.
Bron: Philip Minnaar Facebook





